KAREL THERON MERINO MAKIETIE

Op Vrydag, 21 Oktober, het Primêre Skool Karel Theron hul heel eerste Merino Makietie gehou! Dit was ‘n feestelike dag gevul met aktiwiteite vir jonk en oud. Die dag het afgeskop met die Vagkompetisie – boere van die kontrei het vagte ingeskryf wat kundig beoordeel is deur Werner Olivier (BKB) en Wikus Dreyer (OVK). Die kompetisie was styf, en hoe anders in ‘n omgewing bekend vir sy witgoud? Die 1ste plek het gegaan aan Michael Hayward van Wildewater Merino’s. 

In samewerking met ECASA is daar ‘n kwalifiserende ronde van die OP Jeugskou aangebied, en die skoumanne het hul slag gewys met die hantering van wolskaap, vleisskaap, veselbok, vleisbok, melkbok en selfs perde. 

Die immergewilde KT 7’s was ook deel van die dag se program, waar spanne kragte gemeet het in items soos sakresies, vlugbal, balbalanseer en toutrek. 

Die Weiveld en KarooKuier-tent was ‘n oase vir feesgangers, waar liplekker kos aan die orde van die dag was. Met 'n kerrie-en-rys soos min en 'n saligheid vir die keel was feesgangers ook vermaak met optredes deur die Jnr & Snr KT Pom-Poms, sowel as skeerdemonstrasies deur Tienie du Plessis.

Die beplande Boeresport(s) is in die wiele gery deur ‘n broodnodige reënbui, maar dit het gladnie die Merino Makietie se vuur geblus nie! Feesgangers het laer getrek in die skoolsaal, waar die aand afgeskop is met ‘n optrede deur Neil Nachtrein, gevolg deur ‘n heerlike steak ete bedien deur die Middelburg Klub. DJ Kareltjie het gesorg dat daar tot ounag gekuier is. 

Na ‘n uiters suksesvolle dag is die hele kontrei dit eens: Merino Makietie is die plek om te wees! 

 Karel Theron bedank graag vir BKB, Die Chargo Groep, OVK, NWKV, Johannie van der Ahee, Ecasa, Volkstud Motors, Herotel, PSG, Kelston Haval, Buffelsfontein, Kleinbederf en Sherborne Gastehuis asook elke feesganger wat die dag moontlik gemaak het. Ons sien julle by die Merino Makietie 2023!

Indien jy betrokke wil raak by Merino Makietie 2023 kontak ktbemarking@gmail.com vir verdere besonderhede. Om meer te sien van Karel Theron en ons bedrywighede, gaan like ons facebookblad by https://www.facebook.com/kareltheronps

Source: Karel Theron